Thursday, February 26, 2015

Kortetjies en 'n lange deur P G Du Plessis

BOEK INLIGTING
Aantal bladsye:  284
Formate:  Kindle, Sagteband
ISBN: 139780624048107
ASIN: B00BW76FTK
Tekstaal: Afrikaans
Boekverkopers: Amazon | Loot | 
Graffitiboeke | Kalahari |  

___________________________________________

RESENSIE

Hierdie boek kan nie sonder aanhalings geresenseer word nie.  P.G. Du Plessis lees 'n mens met hoofletters in gedagte.

Vir my mening oor die boek gaan ek my ook nie in 'n BMW verbeel, Times en Newsweek lees, soos Silvia op Sondamiddag nie. Daar is ook geen sisrok-fase nie, en geen gemik na folk-kitaar, of stukkies papier wat akademiese status en gepaardgaande verhewendheid beloof nie. En hierdie Griet gaan ook nie 'n oulike weduwee wees nie.

Begroot maar ruim vir 'n uit-die-boks-uit benadering. Want erens in die Afrikaner psige skuil daar nog die Griete sonder geite: ongesofistikeerd, vrydenkend, ongeïntimideerd deur titel of tone van belangrikheid. Die briekdraaiers van die ossewa met die V8 enjin, bult op en afdraende af. Somtyds waag hulle om resensies te skryf. Vir boeke soos hierdie. Uit die hart uit.

Kortetjie en 'n Lange is die gedagtemalery van 'n man wat deurleef en deurloop is. 'n Tikkie sout gemeng met 'n versigtige gedagte van suiker, soos wat van 'n tipiese joernalis verwag kan word wat die wereld en sy mense oorleef het. Voeg 'n spatsel fyn elitisme by om die vertrekpunt te bevestig, en die boek kry lyf.

Die pleister op die stories is, tipies, P. G. Du Plessis, geriffel met anekdote en 'n diep, ironiese deurdrenkende sielslagie van eerlike grinnike en guitighede. Maar dit penetreer dieper as wat die oog kan sien. Soos in al sy boeke is sardoniese insig die muse.

" As jy jou mure "face" soos Booi 'n muur "face", dan moet jy groterige klippe partykeer, voorlopig en hoog, half wankelrig staanmaak.

Die een val toe op Gert. So 'n twee meter, met ongeveer vyftien kilo's liefde vir die aarde. Hy Newton Gert op die knie." Uit Oor Sy Knyp En Sy Knietjies
Anderkant Grand-Pa, in die modus van PG, vereer 'n ryk lewe, vol goeie onthoudings:
" ...dit word alweer Oktober. Want ons sit op die stoep en ons kyk hoe September die bome aan't verwe is vir Oktober. Ek het 'n ding oor Oktober, veral die eerste. Ek is vatbaar vir die ding, want dan word al die ou bome jonk, die piet-my-vrou roep jou dat die verlang na vergane Oktobers in jou keel kom bondel tot jy wurg van Oktobersmart."
As daar een beginsel in skrywery is wat hom leen tot meesterskap is dit die 'show don't tell'-kuns.
Uit Een Been" :"Die outjie wat die trekkers hier by ons probeer regmaak, en enige meganiese ding meer bekonkel as besalf, sê nou die oggend 'n waar ding:

Al wat jy van 'n man kan verstaan, sê hy, is, is sy ratte, maar sy electronics is so onmoontlik te verstane soos 'n Boeing.

'n Boeing moet vir dié man baie onverstaanbaar wees, want enige ratkas met meer as drie versnellings vorentoe, is bo sy verstand, en aan die eletronics van my bakkie laat ek hom nie vat nie ná Faan se ongeluk nie. Dié se ligte-stelsel het die mannetjie so verkeerd gekoppel dat die arme Faan een nag nie sy intensie aan die skaaplorrie agter hom kon verduidelik nie. Hy is toe met die skaaplorrie agter op die bakkie die sloot in.

Ná die ongeluk het Faan daardie swaar bul van hom by die verse weggevat, want hy sê dit was vir hom vreeslik om so oor sy skouer te sien wat die skaaplorrie doen."
Dan weer haal vriend Bieëlie hom in (Dag-Man Van Die Duiwel) by die motorhek, as die maan skyn op die droë mielies, die taaibos kolle staan in die veld, die vlieswolkies soos die uitgewaaide sluiers van te vroeg gestorwe bruide is, die gras langs die pad buig sonder dat daar wind is, elke donkie langs die pad iets anders word.
"Dis in die nag dat die vrees, die skaduweewêreld, die ou goeters wat nog in ons roer, by ons aangesit kom. Vreeslike, onnoembare dinge uit die wêreld waaroor die daglig lag, en waaraan die donkernag glo."
Daar's 'n mediterende stilte rondom die groot sjamaans, voordat die woorde uitvloei wat wysheid, genesing, of waarheid bevestig. 

Wie onthou die woorde van die liedjie, The Sound Of Silence":
“The words of the prophets
Are written on subway walls
And tenement halls
And whispered in the sounds of silence”


Om die vure van Afrika, waar inwoners nog, om verskeie redes, vergader vir danksegging, word die wysbegeerte van 'n Afrika-lewe nog besing deur die profete in woorde wat uit die omliggende Afrikanag se stilte gebore word. En dis waar die Afrikaner se storievertellers die ryke tradisie voortsit, en waar woordsmede hulle stories spin vir die nageslagte om aan te herkou. In die neonligte daar ver, is daar nie meer plek vir woorde en stories, of selfs die mediterende stiltes nie. Dis dan wanneer boeke soos hierdie die stilte kom leegdra en die harte vol maak met die broodnodige nostalgie daaragter.

P.G. Du Plessis is 'n storieman. 'n Woordsmid wat die kuns van storievertel en menswees verstaan. Die diepe respek waarmee die karakters aan die leser voorgestel word, wurm moeiteloos deur al die kortverhale deur. Afrikaans het 'n ryke versameling Scheherazades waarvan P.G. Du Plessis een van die heel grootstes is. Lag-met-'n-traan, ironie, duiwel-op-die-skouer, asprisgeit tot 'n kuns vervolmaak - dis P.G. Du Plessis. En hierdie is sy stories in 'n landskap waar stilte om ons al hoe groter mag word as ons dit wil laat gebeur.

"Daarheen, tobbende oor die versyferbaarheid van die mens, was ek op pad toe daar voor, teen die horison, 'n dotjie op die perspektieflyn van die pad verskyn. Met die naderkom word die punt 'n uitroepteken en maak hom uiteindelik van die donkie-moontlikheid los deur 'n duidelike menslike vorm aan te neem.

Die pad se streep loop wragtig soos tyd se streep deur die ruimte, dag ek toe ek besluit om stil te hou en te vra wat hy te voet hier in die onmeetlikheid soek.

'n Hele dag se son het hom gebrand, sien ek toe ons groet. Sy een oogbank is oopgeslaan en sy geswelde lip het 'n sonbrand-blaas by.

Die skaaplorries kom later verby en sal hom oplaai, sê hy, en toe ek enige moontlike hulp aanbied, begin hy sonder verdere woorde aanstryk. Hy loop in die teenoorgestelde rigting waarin ek ry en ek moet in trurat ry om hom die halfwarm Coke in die hand te stop.

Hy vat dit, sê dankie, en stryk aan. Ek weet ek durf nie verder probeer indring nie. Ry dus.

Agter my verander hy van mens tot uitroepteken, tot dotjie, tot niks. Die stofstreep skuif oor hom."
Uit: Bloed Aan Vossie
Mag dit nooit met P.G.Du Plessis gebeur nie. Dit sal ook nie.

Hierdie boek is soos 'n poel stilte wat gewag het vir P.G. Du Plessis om weer te gebeur.


___________________________________________


OUTEUR


Foto bron

Pieter Georg du Plessis is op 14 Julie 1934 op Boshof in die Vrystaat gebore. Sy pa was vir veertig jaar onderwyser in Engels in die Vrystaat. Pieter, soos hy verkies om genoem te word, gaan skool op Cornelia en Heidelberg in Gauteng waar hy aan die Hoër Volkskool matrikuleer. 

Hy behaal die grade:  
BA -1955 -(Universiteit van Pretoria),
Onderwysdiploma- 1957 - (Pretoriase Onderwyskollege), 
BA Honneurs - 1960- (Universiteit van die Witwatersrand)
Phd -1966 - (Universiteit van die Witwatersrand)

In sy beroepslewe maak hy 'n draai in die onderwys (Hoërskool Fakkel in Johannesburg), lektor by die Johannesburgse Onderwyskollege, senior lektor in Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van die Witwatersrand, Direkteur by die Instituut vir Taal, Lettere en Kuns by die RGN, eindredakteur by die tydskrif Standpunte, assistentredakteur by die dagblad Die Transvaler, redakteur van Hoofstad koerant.

Literêre kritiek
1968 Die verwysing in die literatuur, Nasionale Boekhandel

VERHOOGSTUKKE

1969 Die nag van Legio, Tafelberg
1971 Siener in die suburbs, Tafelberg
1973 Plaston: DNS-kind, Tafelberg
1977 ’n Seder val in Waterkloof, Tafelberg
1985 Vereeniging, Vereeniging, Tafelberg
1999 Inkleurboek
2005 Nagkantoor
2006 Bedevaart
2004 Send for Dolly (Engelse vertaling van 'n Seder Val In Waterkloof)
2008
Sophia Mentz beredder haar boedel
2014 Pandjieswinkelstories

Prosa: Kortverhale
1980 Koöperasie-stories op Donderdag, Perskor
1983 Hier sit die manne…, Perskor
1985 Nog koöperasie-stories, Perskor
1991 Koöperasie-stories: die omnibus, Perskor
1997 Tussen die riewe, Benedic
1998 Tweehonderd stories, Perskor
2006 120+ sommerstories, LAPA
2009 Kortetjies en 'n lange, Tafelberg 

Prosa: Sketse
1987 Het olifante elmboë?, Tafelberg
1993 Neklis, Tafelberg

Prosa: novels/romans
1994 Syferfonteine, Tafelberg
1998 The Married Man’s Guide to Adultery: A Study of Adulterations, Tafelberg
2008 Fees van die ongenooides, Tafelberg

VERTALINGS
Die nag van legio (1969) English (My name is Legion)

Dramas en verhoogstukke:
Die Nag van Legio;  Siener in die suburbs (Hertzogprys, W.A. Hofmeyr-prys);
Seder val in Waterkloof (1979), vertaal in 2004 as Send for Dolly;Vereeniging, Vereeniging; Bedevaart; Inkleurboek; Nagkantoor;  
 

Plaston: DNS-kind; ;

Verwerkings vir verhoog:
Mikro se Mattewis en Meraai; Gonnakolkers;
Die Wa-as; Die Houtswaan en Die Porseleinkat.

Televisiereekse en draaiboeke:
Koöperasiestories; TJ7; Rand 'n Droom; Die Maplotters; 
Andries Plak

Feast Of The Uninvited; Dryfsand (ATKV-Televisieprys, ATKV-Televisieprys vir Beste Draaiboek vir ’n Afrikaanse Dramareeks, Sepie of Enkeldrama, Beste Regisseur (Koos Roets), sowel as Beste Afrikaanse Dramareeks, Sepie of Enkeldrama.);

Films: Nag van die Negentiende; Liewe Hemel, Genis - die moevie;

Verhoogoptredes:  Spies en Plessis met Permissie (saam met Jan Spies);Klets, Klawers en Kitaar ( Saam met Ollie Viljoen en Valiant Swart).

Intussen vestig Pieter en sy vrou Marie hulle op ’n plaas, Sémoér, by Rysmierbult net duskant Ventersdorp. Hier boer Marie en kan Pieter sy liefde vir houtwerk uitleef. 
Bron: Wikipedia

TOEKENNINGSWA Hofmeyr Prize (1970) – Die nag van Legio
CNA Prize (1971) – Siener in die suburbs
Hertzog Prize for Drama (1972) – Die nag van Legio and Siener in die suburbs
WA Hofmeyr Prize (1973) – Siener in die suburbs
FAK Prize for Light Fiction (1988) – Het olifante elmboë?
Insig Afrikaanse Onbeperk Pioniersprys (2002) 
ATKV Television Prize for Best Script (2007) – For the TV series Dryfsand
ATKV Prize: Fees van die ongenooides (2009)
Helgaard Steyn Prize: Fees van die ongenooides (2012)

___________________________________________


No comments:

Post a Comment